Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 16 Desember 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons bekend maak dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:

Philip Conradie, ZS1CON, onlangs en Thys van Vollensteen, ZS6TVV, op 11 Desember.

Ons innige meegevoel gaan aan die afgestorwenes se familie en vriende.

(POUSE).

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL ANTENNAVERDEDIGINGSFONDS BREEK DEUR DIE R20 000 VLAK

TWEE KUNDIGE WERKGROEPE VAN DIE SARL KOM GEDURENDE DIE TWEEDE WEEK IN JANUARIE BYEEN

KONFRONTASIONELE WÊRELD-KONFERENSIE OOR INTERNASIONALE TELEKOMMUNIKASIE KAN AMATEURRADIO BEÏNVLOED

SENIOR PADVINDERAVONTUUR GEVIER MET ZS9SSA

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL ANTENNAVERDEDIGINGSFONDS BREEK DEUR DIE R20 000 VLAK

Slegs twee weke na die stigting van die SARL se antennaverdedigingsfonds is meer as R20 000 bygedra. Radioamateurs en klubs het saamgestaan om die SARL se veldtog om bou- en soneringsregulasies gewysig te kry ten einde radioamateurs toe te laat om antennastrukture laer as 15 m op te rig sonder om deur 'n lang proses van aansoek om hersonering en gebougoedkeuring te kry te gaan soos in meeste van die groot sentrums in Suid-Afrika vereis word.

Die mikpunt is om ten minste R50 000 in te samel. Dit beteken dat meer as 40% tans reeds bereik is. Baie dankie aan die radioamateurs en klubs wat reeds bydraes gemaak het. Volledige besonderhede aangaande die veldtog en 'n lys van bydraers kan gevind word by www.sarl.org.za, kies “Antenna Defence Fund” in die linkerhandse spyskaart op die tuisblad.

NIE 'n KITSOPLOSSING NIE

'n Veldtog van hierdie aard is 'n lang proses en vereis die raadpleging van verskeie kundiges. Die SARL onder die leiding van sy wetsadviseur, Johann Marais, ZS1JN, het reeds geskakel met 'n prokureur, wat ook 'n kundige in beplanningsaangeleenthede is, ten einde die riglyn wat die SARL moet volg te ontwikkel en wat die benadering behoort te wees. Die vakansietyd werk teen ons aangesien baie professioneles hierdie tyd van die jaar met vakansie is.

“Ons verwag dat die grootste druk van die veldtog na middel Januarie sal plaasvind”, het die SARL se President Rassis Erasmus, ZS1YT, gesê. “Ons sal lede inlig d.m.v. SARLNUUS, nuusbriewe en die webwerf. Indien daar ooit 'n tyd was om by die SARL, die nasionale vereniging vir amateurradio, aan te sluit, dan is daar geen beter tyd as nou nie het hy gesê. Hy bedank almal wat bygedra het, en het gesê:”Ek daag alle klubs en individuele radioamateurs uit om 'n bydrae tot die fonds te maak”. Die name van die klubs wat tot datum bygedra het, verskyn op die ADF-webblad.

TWEE KUNDIGE WERKGROEPE VAN DIE SARL KOM GEDURENDE DIE TWEEDE WEEK IN JANUARIE BYEEN

Die twee SARL-werkgroepe, die tegnologiewerkgroep en die regulatoriese werkgroep sal gedurende die tweede week in Janyarie byeenkom. Die twee werkgroepe is in die lewe geroep ten einde te verseker dat amateurradio op die voorpunt van die SARL se fokus bly.

Die tegnologiese groep sal op nuwe ontwikkelings fokus en interaktief optree met verskillende SABS tegniese komitees en die ontwikkeling van standaarde monitor wat 'n invloed op amateurradio mag hê en sal die amateurradiogemeenskap van nuwe ontwikkelings op hoogte hou. Een van die onmiddellike take sal die koördinering van die voorgestelde 5 MHz deelband en voortplanting navorsingsprojek wees.

Die regulatoriese werkgroep sal fokus op verskeie regulatoriese kwessies soos frekwensietoekennings, omgewings- en bouregulasies sowel as ander regulasies wat amateurradio kan affekteer.

Na verlede week se aankondiging in SARLNUUS is nominasies ontvang vir lede vir die regulatoriese werkgroep, maar niemand het aangebied om by die tegnologiewerkgroep aan te sluit nie.

Radioamateurs met kundigheid en/of belangstelling in hierdie of verwante velde en wat belangstel om by een van die werkgroepe aan te sluit, word uitgenooi om hulle name, agtergrond en kontakbesonderhede aan die SARL se sekretaris te stuur na secretary@sarl.org.za.

KONFRONTASIONELE WÊRELD-KONFERENSIE OOR INTERNASIONALE TELEKOMMUNIKASIE KAN AMATEURRADIO BEÏNVLOED

'n Konfrontasionele internet-regulasieverdrag van die Verenigde Nasies wat tans op n byeenkoms in Dubai bespreek word, kan 'n invloed op amateurradio-operateurs hê. Die kern van die probleem is die term ‘bedryfsagentskappe’. Tans is die internasionale telekommunikasie-regulasies slegs van toepassing op erkende bedryfstelselagentskappe. Dit beteken eintlik die groot telekommunikasie-operateurs in elke land, soos Telkom in Suid-Afrika.
News Line se Bill Pasternak verduidelik dat sommige lande wil hê dat die term verander word na net ‘agentskappe’. Dit sal beteken dat die internasionale telekommunikasieregulasies van toepassing word op 'n aansienlik groter aantal groepe. Eerder as om van toepassing te wees slegs op ATT, British Telecom of Italia Telecom of Telkom, sal die internasionale verdrag dan van toepassing wees ook op entiteite soos Google, Facebook, Microsoft en eBay, om maar net 'n paar te noem. In werklikheid sal omtrent elke internet-maatskappy, asook privaat netwerkoperateurs, lyn-verhuringsoperateurs, die regering en selfs amateurradio-operateurs ingesluit word in hierdie nuwe definisie.
Maar hierdie idee geval glad nie baie van die ontwikkelde lande nie. Tot dusver is die Verenigde State, Kanada, Japan, Korea, Mexiko, Pole en die pan-Europese CEPT sowel as die Inter-Amerikaanse Telekommunikasiekommissie, beter bekend onder die akroniem Citel, hierteen gekant. Aan die ander kant is die Arabiese State, Afrika-State, Brasilië, Indië, die Filippyne en verskeie ander, ten gunste van die verandering.

In die tussentyd het die hele konferensie tot stilstand gekom totdat ‘n besluit oor hierdie probleem geneem word.

SENIOR PADVINDERAVONTUUR GEVIER MET ZS9SSA

Die Senior Padvinderavontuur is tans aktief te Matjiesrivier, Sederberge onder die roepsein ZS9SSA op die 80, 40, 20, 15, 10 en 6 meterbande regdeur die dag tot en met 21 Desember 2012. Die basis ontvang stapspanne daagliks vir omtrent twee ure per dag om 17:00 en 20:00 SAT. Amateurradiotegnologieë word bespreek en die besoekers word handvaardighede geleer deur hulle toe te laat om ESB, Morse en digitale modusse vanaf die basis te bedryf. Alle kontakte sal met 'n spesiale QSL-kaart bevestig word. Hierdie aktiwiteit is ‘n spanpoging tussen die Padvinders en die SARL ten einde amateurradio aan die jongmense bekend te stel. Verskeie internasionale padvinders neem aan die aktiwiteite deel en hulle word ook blootgestel aan die wonderlike wêreld van tegnologie en wat Suid-Afrika kan aanbied.

BESTEL U BOEKE VIR KERSFEES NOU

Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust het 'n groot aantal ARRL-boeke in voorraad. Besonderhede kan gesien word op www.amateurradio.org.za. SARL-lede kwalifiseer vir 'n afslag. Daar is twee bestelvorms op die webwerf beskikbaar. Indien u 'n SARL-lid is, laai die bestelvorm vir lede af en u sal sien wat die afslagpryse is. Tans is die twee mees populêre boeke die 2013 hardebladuitgawes van die Handboek en die Antennaboek. Indien u beplan om die RAE in Mei volgende jaar af te lê, dan is die “ARRL Basic Radio” die ideale boek om u in u studies behulpsaam te wees.

SARL-KANTOOR GESLUIT

Die SARL-kantoor is gedurende die Kers- en Nuwejaarseisoen gesluit en sal weer op 7 Januarie 2013 heropen. Vir enige dringende aangeleenthede,alleenlik, stuur 'n e-pos aan secretary@sarl.org.za. Hou asb. enige algemene administratiewe aangeleenthede oor totdat die kantoor weer heropen.

KLUBAFFILIASIE

Die Zululand Amateurradioklub en die Port Elizabeth Amateurradiovereniging het by die SARL geaffilieer. Die aantal geaffilieerde klubs staan nou op 33. Vir 'n volledige lys van geaffilieerde klubs, gaan kyk op www.sarl.org.za/public/ClubTalk/default.asp.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom ook die volgende persone as nuwe lede en wens hulle 'n lang en vrugbare verbintenis met die Suid-Afrikaanse Radioliga toe:
André Shaw, ZS1AN
Ivan Rossi, ZSL1054
Johan Latsky, ZSL1055.

KOMPETISIENUUS

Uitslae van die PEARS HF DX kompetisie gehou op November 2012 waarvoor slegs 4 logstate ontvang is:

Algemene stasies.
1ste ZS2DX 1 300 punte
2de ZS6PAM 527 punte
3de ZS2EC 108 punte

Veldstasie.
1ste ZS2U 140 punte

Algehele wenners.
1ste ZS2XD
2de ZS6PAM

Geluk aan die wenners in die verskillende kategorieë, julle sertifikate sal binnekort aan julle gepos word.

Uitslae van die digitale kompetisie gehou op 2 Desember waarvoor ses logstate ontvang is.

1ste - Noel Hammond, ZR6DX - 213 punte
2de - Dirk Els, - ZS6AKU - 147 punte
3de - Marius Snyman, ZR6MS -126 punte

Die gekombineerde uitslae na drie digitale kompetisies is:
1ste - Pierre van Deventer, ZS6A - 890 punte 2de - Marius Snyman, ZR6MS - 879 punte 3de - Brendon Muller, ZS4BM - 522 punte.

Veels geluk aan Noel en Pierre.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Al vier die sigbare sonvlekke is tans stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 63.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
21 Desember – Laaste dag om kontak te maak met Senior Padvinder Avontuurstasie ZS9SSA.
31 Januarie 2013 – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur deur George Honiball, ZS6NE, en dit is deur hom saamgestel.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003